Vanjaar het in musiekterme Allegro begin: Vinnig en vrolik! Dit is 'n heerlike voorreg om deel van Stella Musica te wees.
My musiekavontuur het begin toe ek 5 jaar oud was en met vioolles begin het by Dorothea Overbeck. Op hoërskool was ek 'n leerling van Anne-Marié Swanepoel en ek matrikuleer by Hoërskool Waterkloof.
Daarna studeer en voltooi ek BMus in die Jakarandastad. Verder het ek Unisa se Onderwyserslisensiaat behaal, asook vlak 3 van die "European Suzuki Association" se Internasionale Onderwysers Opleiding.
Dit was 'n voorreg om vir baie jare lid van verskeie orkeste te wees. Vanaf 2000 werk ek as vioolonderwyseres by skole soos Pro Arté, Waterkloof, Constantiapark en Menlopark.
Dis vir my 'n plesier om met kinders te werk. Met my instrument wil ek graag 'n instrument in God se hande wees, om elke entoesiastiese vioolleerling, klein en groot, te help om hul volle potensiaal te bereik, met die belangrikste doel om musiek te geniet!